ONS ONTHOU OU MAGGIE!!!
 
 

17/03/1940 – 04/07/2000

 

Gertruida Magrietha Bouwer (gebore Cilliers) is op Dinsdag 4 Julie 2000 op die ouderdom van 60 jaar en amper 4 maande aan pankreas kanker oorlede.

 

Ou moeder Mac of Maggie was baie geliefd onder almal wat haar geken het. Haar vriende het almal haar grappies en speletjies geniet, haar susters en broers was haar sielsgenote en niks was ooit te veel gevra vir mekaar nie. Haar man was sommer net haar ou maat en hulle was baie goed vir mekaar. Vir my en my broer het ons ma ons lewens gevorm met haar opvoeding en later was sy ons grootste vriendin. Sy en haar skoondogter was soos ma en dogter. Terloops, die foto hierbo is van haar geneem tydens ‘n besoek aan ‘n privaat wildtuin. Sy het agter die Landrover vir ons op die maat van "Roer die meid se goema" gedans. Ek en my pa het skaam gekry terwyl sy later vir Mandi sover gekry het om saam te dans!

 

Die begrafnis was op 11 Julie 2000 gehou in Yzerfontein se NG Kerk en die ter aardebestelling was gehou in Darling se begrafplaas. Al Maggie se oorlewende susters en broer het die begrafnis bygewoon. Die begrafplaas is ook in ‘n pragtige, rustige omgewing gelee en ‘n klomp wilde voels het hard gesing terwyl haar kis afgesak het. Werklik ‘n pragtige begrafnis, ons dank en eer die Here daarvoor.

 

Die doel van die webblad is om as aandenking aan liewe ou Maggie te dien. Gebruik asseblief die e-mail adres hieronder om ‘n kort boodskap te stuur of om iets van Maggie te vertel. Ons sal graag wil hoor wat onthou julle die meeste van haar. Al die boodskappe sal in die tabel hieronder geplaas word.

 

CLICK OP HIERDIE ADRES OM ‘N BOODSKAP TE STUUR: ONTHOU.MAGGIE@BOUWER.ORG

NAAM

BOODSKAP

EMAIL

 At en Francin Nel

 Ons sal haar altyd onthou as die vrolike en vriendelike mens by wie enige
een altyd welkom was. En kon sy lekker kos maak, en so baie, die drie Bouwer
mans het haar ook nooit teleurgestel nie en al hulle kos opgeeet, ek moes
partykeer handoek ingooi. Ek het haar ook maar sommer MAGRIET genoem.
Ons voel saam met julle, en dink baie aan die verlange wat daar sal wees
Ook aan Attie sterkte en weet dat ons hier is as ons iets kan doen, Kom
kuier

 fatnel@hixnet.co.za

 Gert & Ina Ferreira

 Hello al die Bouwers en familie
Net om te se ons dink aan julle in die tyd en bid vir julle
Seenwense

 gertf@iafrica.com

 Bertie en Isa Driescher

 Ons het nie julle moeder geken nie, maar ons kan dink dat dit 'n groot gemis is, en dat dit vir julle moeilik was om so ver te wees toe sy baie siek was.

Ons kan nie baie woorde sê nie, maar ons bid dat die troos en die ondervinding van die Here se liefde vir julle 'n groot werklikheid sal wees in hierdie tyd.

 bertie.d@mweb.co.za

 Toy, Kiere en Bianca

 Opgedra aan my besondere spesiale vriendin en sielsgenoot

Maggie Bouwer

Ons gun jou die rus en vrede wat op jou wag. Gelukkig was jou lyding van
korte duur, en kon jy jou menswaardigheid tot aan die einde behou. Daarvoor
ons dank aan ons Skepper.

Ons gaan jou vriendelike lag en stil, rustige stem mis. Jy was 'n inspirasie
met jou aanvaarding en nooit was daar 'n verwyt of opstandigheid oor jou lot
nie.

 cjacobs@kc.co.za

 Driekie Nel

 Maggie,

my neef se vrou maar nie net dit nie, sy was my niggie. So jammer sy was so ver van ons af met haar siekte. Sou so graag haar wou gesien het. Ek onthou hou lief sy vir har man en twee seuns was. Hulle kon stoei soos rofstoeiers met mekaar. ek onthou al die puzzles wat hulle saam gebou het en teen die muur vasgeplak het.

Attie, Anton en Mandie, ek deel in julle verlies.

 driekie@mweb.co.za

 Annette vd Heever

 Wie kan ooit n vrou en ma soos maggie vergeet. Daarom bid ek dat die seer en die verlange met die tyd ligter sal word en net die mooi herinneringe sal oorbly.

 rudi@mweb.co.za

 Rudi, Rene, Rowena en Ruan

 As ek aan Auntie Maggie dink(Sy wou my atyd moer as ek se my Auntie Maggie)dan dink ek omwillekeurig aan die Auntie wat:

* Lekker kon kosmaak, veral sout tert

* Lekker kon vloek as jy haar die moer in maak

* n wonderlike ma was vir haar kinders,

* n wonderlike vrou was vir haar man,

al wou sy almal kort kort moer

Die herinnneringe wat ek het van Maggie, is net mooi en die wereld sal baie beslis n armer plek wees sonder haar

Ons simpatie met julle verlies, ons hoop dat die tyd die pyn sal verlig

 rudi@mweb.co.za

 Tannie Maggie se aangenome seun
Martiens Pelser

 Ek is baie jammer om te hoor van julle ma. Gelukkig weet ons dat sy weg is
na 'n plek waar daar nie meer pyn en lyding is nie.
Baie sterke vir julle en vir oom Attie. Ons bid vir julle.

 MartiensP@cf.co.za

 Oom Chris Nel en Tannie Barbara

 Ons innige meegevoel met die afsterwe van jou moeder.

 fcnel@pop.co.za

 Andre & Ilse Nel

 Jammer om te hoor van die groot verlies - ons dink aan julle.

 ainel@iafrica.com

 Suenette en Cruise

 Ons is jammer om te hoor van jou ma, Anton en skoonma, Mandi. Opregte gebede kom diep uit ons hart dat God ook in hierdie dae en op jul pad voorentoe julle styf teen Hom sal hou en dat julle albei opnuut ons Vader se krag, liefde, leiding en nabyheid sal ervaar!

As daar enige iets spesifieks op jul gebedslysie is kan julle ons seblief laat weet. En Anton ons bid ook spesifiek vir jou pa, dat die Here ook vir hom in die tyd wat voorlê sal dra, versterk en lei om te kan verstaan wat God se doel met sy lewe vorentoe is.

Ons wil graag die Bybel verse vir julle gee - met liefde :

"Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie, Ek help jou" - Jes. 41:13

"Geseënd is die wat treur want hulle sal vertroos word" - Matt.5:4

"Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid uitkoms gee" - 2 Kor. 1:3

Ons bid verder dat julle met vertroue vorentoe sal gaan saam met ons Vader wat omgee.

 cruise@yebo.co.za

 Venna, Wilma & Ulrich

 Net 'n kort briefie om julle mee te deel van ons innige meegevoel met julle groot verlies. Ons dink aan julle en bid vir julle.

 Wilma.Venter@eskom.co.za

 Met Liefde van al die Mathew'se in Natal

 Ons weet nie of julle bewus was daarvan dat een van Maggie se gunsteling Teksverse in die Bybel Korintiers 13 was nie. As ek my gedagtes baie jare terug neem, dan onthou ek dat dit een van haar geliefde verse was. Juis dit wat handel oor die Liefde. En as daar nou een is wat kon liefhe met oorgawe, dan was dit Maggie. Sy het jou altyd daai gevoel gegee van opregte liefde, die liefde vir ‘n suster, die liefde vir ‘n swaer en dan die liefde van ‘n tannie. ‘n Tannie wat ‘n kleinding met liefde kon versmoor! Maar meer as dit sy het dit met almal gedeel. Vir ons as familie was dit ‘n voorreg om saam met haar te kon kuier en hierdie liefde te kon deel, en om nie eers te praat van gasvryheid nie! Die deure was altyd oop vir Familie veral, en ja vir vriende en sommer vreemdelinge ook. Ons onthou die dae dat julle Pa van die tafel af moes kruip omdat hy so baie van haar lekker kos geeet het! Sy was ‘n vrou van vele talente, dink maar aan die pragtige breiwerk, die hekelwerk waarvan ons vandag nog spog met ‘n Tafeldoek, ure se arbeid van liefde en geduld! Sy was baie lief daarvoor om die kleintjies se siele uit te trek, en kon skater soos sy lag as sy hulle kon uitvang. Ai, so ver as mens skryf, kom jy agter sy het werklik geleef . Dit was ook ‘n groot troos dat juis Maggie ons ou Moeder bygestaan het toe sy heengegaan het. Hierdie hartseer het ons familiebande nog hegter gesmee, en hier het ons almal tot die besef gekom dat ons saam kon getuig oor haar geloof en haar opofferinge vir haar kinders. Dit was ook hier waar Maggie vir ons vertel het hoe sy elke dag van die week vir een van haar Susters, Broers en hulle familie's bid. Ons dank die Liewe Heer vir haar mooi lewe hier op aarde.

 frankmathews@worldonline.co.za

 Anton Bouwer

 Vir my was my ou Moeder Mac net een stuk goedheid. Sy was, sonder ‘n oomblik se aarseling, altyd aan my kant en het altyd gehoop dat alles wat ek doen goed sou uitwerk. Dit is so wonderlik om iemand te he wat wat geen alternatiewe agenda het nie en wat my bo haarself gestel het. Ek besef nou eers hoeveel sy vir my beteken het. Ek onthou haar diepe liefde vir ons toe sy saam met Rian gehuil het oor ‘n terugslag in sy lewe. Ek onthou my eerste Bybel waarin sy my voorin aan die liefde van Jesus herinner het. Ek onthou ook hoe sy seker gemaak het dat ons altyd Sondagskool toe gaan en so, saam met haar gebede, Jesus in my lewe verseker het.

Ek onthou egter ook hoe ons haar kon kwaad maak en hoe ons vir haar kon lag. Ek sien nog hoe die koekblik op haar kop val en sy haar kop vreeslik vryf terwyl sy deur skrefies oe ons die dood voor die oe belowe as ons sou lag. Ek sien ook hoe my pa in die wildtuin langs die kar draf met sy oop deur en niemand agter die stuurwiel nie. Sy trap toe die briek dood en my pa hardloop amper die deur morsaf. Sy skrik haar byna dood en hou haar hand voor haar mond. Ek onthou ook as kind hoe ek onder haar stoel ingekruip het en my vinger teen haar been opgetrek het. Sy het gedink dit is ‘n muis en kliphard in die geselskap gegil. Die ander vrou in die geselskap het ook gegil van skrik vir Maggie se gil. Ek het ‘n klap gekry en mag nie weer in die geselskap gekom het nie.

As getroude man onthou ek my ma wat altyd lekker kon gesels met ons vriende en altyd vir my gese het om mooier teenoor Mandi op te tree. Na ‘n naweek by my ma was dit altyd moeilik om Mandi weer onder beheer te bring. Ou Maggie het haar kop vol nonsens omtrent ‘n vrou se regte geprop.

Ek sal die vrou altyd eer as my moeder maar ook as my vriendin en as ek nou terugkyk na haar lewe is sy vir my die beste voorbeeld op hierdie hele aarde. Ek gun haar die rus en dank God dat dit my beskore was om so besondere vrou Ma te kon noem.

 Anton@bouwer.org

 Manie, Lonie en seuns

 Ons dink met verlange aan ou Mac, ons mis haar reeds baie. Sy was 'n baie spesiale mens, enig in haar soort.

Daar is nie 'n einde aan die stories saam met Maggie nie. Ons familie sal nooit weer dieselfde wees nie.

Ons was bevoorreg om haar laaste minute hier met haar te kon deel, voor sy huis toe is. Sy is nou sonder pyn en enige lyding.

Ek onthou toe ek by hulle gebly het in Dal Fouche. Ek en sy ry kafee toe. By die kafee gestop, en toe ons klaar is klim sy agter my kar se stuur in. Sy sit die kar toe in tru rat en stamp 'n klein Mini se ligte stukkend wat agter ons gestaan het!

Ek en sy lag toe so dat sy my net aanhou vra "Wat nou?, wat nou?" waarop ek toe vir haar se "Jaag net weg!!"

Wat sy toe ook doen. Nodeloos om te se hoe ons gelag het elke keer as ons die Mini met die stukkende ligte gesien het.

Sy was 'n mens wat ander kon laat lag het, en self ook lekker kon lag.

Baie sterkte word julle toegebid. Ons is lief vir julle

 silly@netactive.co.za

 

 

 

Opgedateer Dinsdag 18 Julie, 2000 09:35am EST